Die Bybelse Hantering van Beproewing - 02

1.    SKRIFLESING:
Ons het verlede week gesien dat God beproewing uit Sy barmhartige, genadige en liefdevolle soewereiniteit in ons lewe kan toelaat.  Ons het ook gesien dat beproewing altyd deel van ons lewe sal wees, a.g.v. Adam se sonde, maar tesame met dit, kan dit ook wees omdat ons sélf gesondig het, of dat dit oor ons pad kom a.g.v. andere se sonde; of omdat God daardeur wil hê dat ons Hom moet verheerlik en/of sodat ons geestelik kan groei.  Ek wil egter vanoggend nog vier redes aantoon waarom God beproewing in ons lewe kan toelaat.

Kom ons lees 2 Kor.1:1-24 saam ~ Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus. Aan die gemeente van God in Korinte en aan almal wat aan die Here behoort in die hele Agaje. 2 Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!  Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. 4 In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, 5 want net soos daar vir ons ’n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons ’n oorvloed van bemoediging deur Christus. 6 As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur. 7 En wat julle betref, het ons ’n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het.  8 Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. 9 Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe. 10 Dit is Hy wat ons uit so ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. 11 Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie ’n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank. 12 Daar is een ding waarop ons trots is: ons gewete verseker ons dat ons oor die algemeen, en teenoor julle in die besonder, opgetree het met die openhartigheid en eerlikheid wat van God kom. Daarin is ons nie deur die wysheid van mense gelei nie, maar deur die genade van God. 13 In ons briewe skryf ons aan julle niks wat julle nie self kan lees en verstaan nie. Ek hoop net julle sal ons eendag heeltemal verstaan. 14 Tot nou toe het julle ons maar gedeeltelik verstaan. Op die dag wanneer ons Here Jesus kom, sal julle dan net so trots op ons wees soos ons op julle. 15 Dit was in hierdie oortuiging dat ek vroeër die plan gemaak het om julle te besoek, sodat julle twee keer ’n bewys van genade kon ontvang. 16 Ek wou julle op die deurreis na Masedonië toe besoek en weer op die terugreis van Masedonië af, en dan met julle hulp my reis voortsit na Judea toe. 17 Was ek miskien oorhaastig toe ek hierdie plan gemaak het? Of word ek deur menslike oorwegings gelei as ek planne maak, sodat ek in een asem “ja” en “nee” sê? 18 So seker as God getrou is, ons woord aan julle was nie tegelyk “ja” en “nee” nie, 19 want Jesus Christus, die Seun van God, wat ons, dit is ek en Silvanus en Timoteus, aan julle verkondig het, is nie “ja” en “nee” tegelyk nie. Hy is die “ja” van God, 20 die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” sê. 21 God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder, 22 ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang. 23 Ek roep God tot getuie en staan met my lewe daarvoor in: dit was om julle te spaar dat ek toe nie na Korinte toe gekom het nie. 24 Ons wil nie as heersers voorskryf wat julle moet glo nie. Julle staan immers vas in die geloof. Maar ons wil medewerkers wees om julle geluk te bevorder.

2.    INLEIDING:
As daar iemand is wat kán praat oor beproewing, is dit Paulus, hoor net weer wat sê hy in vers 8b en 9a ~ Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. 9 Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is.  

Dit het by hierdie geleentheid so swaar met hom gegaan, dat dit gevoel het asof hy gaan sterf en dan praat ons nie eens van al die ander kere wat dit swaar met hom gegaan het nie – in sy eie woorde n.a.v. 2Kor.11:23-28 ~ ...ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. 24 Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, 25 drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ’n dag en ’n nag in die oop see deurgebring. 26 Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. 27 Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. 28 Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes.  

As daar dus iemand is wat beproewing geken het, was dit Paulus.  En as iemand iets eerstehands beleef het, is dit iemand na wie ons kan luister wanneer hy vir ons raad gee, en dit is presies wat Paulus in hierdie tweede brief van hom aan die Korintiërs doen.

3.    NOG VIER REDES VIR BEPROEWING:
Net t.w.v. agtergrond:  Behalwe dat Paulus al sy briewe begin deur God se genade en vrede oor sy lesers uit te spreek, gaan hy gewoonlik voort en dank hy God vir die genade wat sy lesers ontvang het toe hulle wederbaar is (bv.1Kor.1:4-9), of hy gee ’n opsomming van sy gebede wat hy vir hulle bid (bv.Fil.1:3-11) ens.  

Hier in 2 Korintiërs 1 wyk hy egter af van hierdie gebruik en fokus hy op homself en bring hy lof aan God vir vertroosting en bemoediging vir hom (2Kor.1:3) en later in vers 11 vra hy voorbidding van die Korintiërs vir homself.  Hierdie, kan ons amper sê, selfgesentreerdheid van hom, dui vir ons op sy geweldige nood en beproewing waarin hy verkeer (v.8-10).

Wanneer ons na die agtergrond van hierdie brief kyk, is dit verstommend dat Paulus die vrymoedigheid neem om steeds so openlik en eerlik met die Korintiërs te praat oor sy beproewing, want Paulus was op daardie stadium geweldig ongewild by baie van die gemeentelede.  Sommige het hom selfs openlik geopponeer.  

Maar waarom skryf Paulus hier oor sy persoonlike beproewing?  Omdat hy aan sy lesers en aan ons, nog vier verdere redes wil verskaf waarom God beproewing in ons lewe toelaat.  In die sesde plek dan......

•    Sodat ons andere wat onder Beproewing gebuk gaan, kan ondersteun en vertroos (1:1-7):  Die woord "parakaleo" kom tien keer voor in vers 1 tot 7 en word in Afrikaans vertaal met o.a. “moed gee” of “bemoedig”.  Dit is presies dieselfde woord wat Jesus in Joh.14:16 gebruik vir die Heilige Gees nl. die “Parakletos”, of te wel die Trooster.  Is dit nie wonderlik om te weet dat die Here, Sy Gees na ons gestuur het, om ons o.a. te troos wanneer ons deur beproewing gaan nie (Jes.41:10, 13; 43:2-3)!

Maar meer nog, ons sien dat die Vader ook vir ons ’n Trooster is, wanneer ons na vers 3 van ons Skriflesing kyk ~ Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee.  Daar is dus troos en genade vir ons beskikbaar onder alle omstandighede en tydens alle vorme van beproewing.

Paulus wys egter vir ons daarop, dat hierdie troos nie net vir óns daargestel word nie, maar dat ons dit met andere wat ook beproewing ervaar, moet deel – God berei ons dus voor vir dit waarvoor Hy ons wil gebruik, nl. om andere te vertroos en te bemoedig.  Dit is waarom Paulus deur beproewing moes gaan, sodat hy sy lesers deur die eeue heen kon vertroos en bemoedig.  Ons kan baie moeilik mense op ’n pad lei waar ons self nog nooit geloop het nie, dit is waarom Paulus na sy beproewing verwys as lyding ter wille van Christus. Hy stel dit ook pragtig in 2Kor.4:10-11 ~ Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. 11 Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word.  Hierdie vers beteken nié dat ons saam met Christus ly sodat ons versoening van sonde bewerkstellig kan word nie,  Nee, Christus hét namens ons gely vir ons sonde, terwyl óns nou ly t.w.v. Christus en Sy eer.

Iemand het dit eenkeer pragtig gestel ~ The mathematics of God’s mercy is wonderful! As the trials abound, the comfort of God abounds as well! Where sin abounds, so does grace (Rom. 5:20)!

Ons as gelowiges moet dus dankbaar wees as daar beproewing oor ons pad kom, want dit het ’n dubbele seën tot gevolg – dit werk seën in die hand vir die gelowige wat beproef word en dit het seën tot gevolg vir diegene wie uit ons ervaring, weer bemoedig en vertroos kan word.  Dit is waarom Paulus in vers 7 sê ~ En wat julle betref, het ons ’n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het.

Paulus leer ons in die sewende plek, dat ons beproewing ervaar......
•    Sodat ons al ons vertroue slegs in God alleen kan plaas (1:8-11):  Wanneer ons na verse 8 tot 11 kyk, kan ons maar net sê:  Dit vat ’n “man op ’n perd” om sy foute en tekortkominge te erken, maar dit is presies wat Paulus hier doen.  Hy stort sy hart teenoor sy lesers uit en hy vertel vir hulle van al die probleme wat hy in Klein-Asië beleef het – en dít nogal teenoor mense wat op daardie stadium teen hom gekant is.  Wat hierdie beproewing was wat hy ervaar het, weet ons nie, maar sekerlik het die Korintiërs se verwerping ook bygedra tot sy beproewing.  

Hy deel egter nie hierdie beproewing van hom ten einde simpatie by hulle te wek nie, maar om hulle die les te leer wat hý moes leer, nl.:  Plaas al jou vertroue in God alleen.   

Wanneer ons leer om ons vertroue in God alleen te plaas ten spyte van vervolging, of beproewing, of pyn en lyding, sal ons vrede en vertroue ervaar wat alle verstand te bowe gaan.

In die agste plek wil die Here hê dat ons deur beproewing sal leer......

•    Om op God se beloftes te vertrou (1:12-24):   
Paulus het by twee geleenthede aan die Korintiërs belowe dat hy hulle sou besoek, maar a.g.v. omstandighede was dit net nie moontlik nie en moes hy sy planne wysig en dit het tot gevolg gehad dat sy vyande hom van wispelturigheid en onbetroubaarheid beskuldig het.  Hulle skryf verder aan die Korintiërs dat Paulus se briewe ook nie betroubaar is nie, al sê hý dat dit Goddelik geïnspireer is.

Paulus het op hierdie aantygings gereageer, deur vir hulle te sê dat hy opreg was en dat sy motiewe suiwer was, toe hy belowe het om hulle te besoek en hy gaan voort deur vir hulle in verse 12-14 te sê, dat wanneer Christus weer gaan kom om te oordeel, hulle sal sien dat hy die waarheid praat.  Hy sê verder vir hulle, dat hy juis sy planne om hulle te besoek verander het, op grond van hulle liefde en begrip (v.15-16).  Hy sê dus vir hulle, dat wanneer daar liefde en vertroue is, daar nooit vertwyfeling of agterdog moet wees oor motiewe nie.  Paulus sê dus dat hy nie soos die wêreld is, wat “ja” sê, wanneer hulle eintlik “nee” bedoel nie.

Dit is dan juis hier wat Paulus vir ons ’n geweldige les leer, nl.:  Die Woord van God is absoluut betroubaar en al die beloftes van God die Vader, kulmineer in Jesus Christus.  Met ander woorde, die beloftes van God is in Christus Jesus waar – Hy vervul al Sy Vader se beloftes en Hy skenk aan ons die geloof om op hierdie beloftes te vertrou en vir onsself toe te eien.

Ons moet leer om eerder op God se beloftes in Sy Woord te staan en dit te vertrou, as om ons eie planne te beraam wanneer ons beproewing ervaar.  Ons kán dit doen – enersyds omdat Sy Woord betroubaar is – Ps.19:8 sê nie verniet ~ Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.  En andersyds kan ons God se beloftes vir onsself toe-eien, omdat ons in Christus deur die Heilige Gees, die krag ontvang om dit te doen.

Laastens sien ons dat beproewing baie dikwels oor ons pad kom,......
•    Om nederigheid in ons lewe te bewerkstellig:
Ons lees in 2Kor.12:7b-9 ~ Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. 8 Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9 Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.  Hieruit blyk dit dus baie duidelik dat God toegelaat het dat Paulus beproewing moes ervaar – waarom?  Om hom nederig te hou.  En waarom is nederigheid noodsaaklik?  Hoor wat sê Jesus self in Matt.11:29 ~ Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.  En in Luk.14:11 sê Hy ~ Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.  En Paulus sê in Kol.3:12 ~ Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.

4.    DIE REGTE GESINDHEID T.O.V. BEPROEWING:
Ek wil ter afsluiting net hê dat ons kortliks sal kyk na ’n paar Bybelse beginsels wat ons sal help om die regte gesindheid te hê, wanneer ons beproewing ervaar.

•    Ons moet eerstens, altyd onthou dat daar nie so iets bestaan, soos ’n lewe sonder beproewing nie.  Beproewing sal dus altyd met ons wees.  Daar is baie mense wat wil hê dat God hulle moet verlos van beproewing, want hulle wil ’n kommervrye lewe hê, maar ons moet onthou dat sonde en beproewing altyd deel van hierdie lewe sal wees, o.a. as gevolg van Adam se sonde.

•    Tweedens moet vryheid van beproewing, nooit ons hoofdoel in die lewe wees nie.  Ons moet eerder fokus op hoe ons die beproewing moet hanteer, sodat dit tot eer van God kan plaasvind deur ons lewe en optrede.  Die verligting van die beproewing moet dus sekondêr wees.   Laat Paulus se woorde in Rom.14:7-8 eerder ons uitgangspunt wees ~ Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. 8 As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.

•    Ons moet derdens in gedagte hou dat ons nie kan kies wanneer ons deur beproewing kan gaan en wanneer nie.  Wanneer ons geroep word om te ly, moet ons eerder besin oor God se doel met ons lyding.

•    Wanneer ons beproef word, moet ons kíés om te glo dat God dit gebruik om iets goeds daaruit tot stand te bring.  Ps.37:23 ~ Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.

•    Wanneer ons beproewing ervaar moet ons dit as ’n wonderlike geleentheid beskou – ’n geleentheid om ’n belegging te maak in iets wat die moeite werd is – iets wat ewigheidswaarde het, eerder as wat ons die geleentheid by ons laat verbygaan.  1Pet.1:7 ~ ...sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.  En daarmee saam, 1Pet.4:13 ~ Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid (sien ook Rom.8:28-29).

•    Wanneer ons beproewing ervaar, moet ons onsself daaraan herinner, dat al die beproewing in ons lewe saam, nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat in die hiernamaals op ons wag nie.  En dat hierdie lyding dus net tydelik van aard is.  Rom.8:18 ~ Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (sien ook 2Kor.4:17; Openb.21:4).

•    Wanneer ons deur beproewing gaan, moet ons altyd in gedagte hou, dat ons lyding tot voordeel vir andere mag wees.  Hoor wat sê Paulus in Fil.1:12 ~ Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het  (sien ook Fil.1:18; Hand.16; Ef.5:20).

•    Ons moet leer om tydens beproewing, op God se wysheid en Sy barmhartige en genadige en liefdevolle soewereiniteit te vertrou en vir onsself af te vra, hoe kan ek geestelike groei deur hierdie beproewing en hoe kan ek God verheerlik deur my reaksie op hierdie beproewing.  

•    Ons moet onthou, dat dit wat ek glo en dit wat in my gedagtes aangaan, die verskil op die ou einde maak van hoe ek my beproewing hanteer en verduur (Kol.3:2; 2Tes.3:5; Ef.4:23; Fil.4:7-8).

•    Ons moet voorts, altyd onthou dat God belowe dat Hy te alle tye, alles ten goede laat meewerk vir diegene wat Hom liefhet (Rom.8:28).

•    En laastens moet ons weet dat God in Sy Woord belowe dat Hy ons nooit bo ons kragte sal versoek nie (1Kor.10:13 – sien ook 2Kor.9:8; 12:9-10).


Comments (0)

Post a Comment
* Your Name:
* Your Email:
(not publicly displayed)
Reply Notification:
Approval Notification:
Website:
* Security Image:
Security Image Generate new
Copy the numbers and letters from the security image:
* Message: