Die Boek Genesis - 09 (Die Tuin-Tempel van Eden)

Die Boek Genesis - 09 (“Die Tuin-Tempel van Eden” )


1.    SKRIFLESING:
Gen.2:8-15 ~ Die Here God het toe ’n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon.  Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.  Daar het ’n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword.  Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is.  Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks.  Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele Kus.  Die derde is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop, en die vierde is die Eufraat.  Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.

2.    INLEIDING:
Verskeie kommentators identifiseer die Tuin van Eden as iets van ’n Mesopotamiese plaas.  So het Henry Morris bv. geskryf dat Adam die opdrag ontvang het om die grond in die Tuin te bewerk – te ploeg en te plant en te oes.  In sy kommentaar oor Gen.2:15 het Johannes Calvyn o.a. gesê dat die Tuin vir die mens gegee is om dit te bewerk en te “beskaaf”.  Martin Luther het dieselfde opinie gelug en ook gesê dat die mens dit moes oppas en bewaar.

Die vraag is egter of dit werklik die motief met hierdie perikoop is, nl. dat Adam veronderstel was om ’n plaasboer te wees.  Kan, of moet ons dus ’n werksetiek vorm n.a.v. hierdie perikoop?  Die antwoord hierop is egter dat, werk en ’n werksgebied nie die primêre motief met die Tuin van Eden was nie.

Daar is verskeie aanduidings en inligting in Genesis, sowel as in ander dele van die Woord, wat daarop dui dat die Tuin argetipies is, of ’n grondvorm, of eerste uitdrukking van ’n aardse Tempel is.  Ons moet dus nader ondersoek instel, ten einde te sien waarom die Tuin van Eden as die eerste Tempel gesien kan word.

3.    EIENSKAPPE VAN DIE TUIN: 
Ons kyk dan eerstens na enkele van die eienskappe van die Tuin van Eden:

•    Ligging:
Ons lees in Gen.2:8 dat God die Tuin in die Ooste aangelê het.  Daar is verskeie teksverse in die profesie van Esegiël wat spesiale waarde verleen aan die Ooste en dan spesifiek m.b.t. God se teenwoordigheid.  So is Esegiël bv. in Eseg.11:1 na die oostelike hek aan die oostekant van die Tempel gebring, sodat hy die heerlikheid van die Here kon sien verdwyn oor die Olyfberg wat in die ooste geleë was (Eseg.11:23).  Twintig jaar later het Esegiël die heerlikheid van God sien terugkeer deur die hek aan die ooste kant (Eseg.43:1-4) en ons lees in Eseg.44:1-2 ~ Toe vat die man my terug na die buitenste oospoort van die heiligdom toe, maar die poort was toe,  en die Here het vir my gesê: “Hierdie poort moet toe bly, dit moet nie oopgemaak word nie en niemand mag daardeur gaan nie, want Ek, die Here, die God van Israel, het daardeur gekom; die poort moet toe bly.

Gedurende die Herodiaanse tydperk, is die Oostelike hek van die Tempel, slegs deur die Hoë Priester gebruik, asook diegene wat hom gehelp het om die offerlam na die Olyfberg te lei.  Ons vind ook die beeldspraak t.o.v. die son wat in die ooste opkom en wat dien as Bybelse metafoor vir Goddelike openbaring – ons vind so ’n metafoor bv. in Luk.1:78-79 ~ ... danksy die genadige ontferming van ons God. Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal,  om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.

•    Bo-op ’n Berg:
Wanneer ons Genesis 1-3 bestudeer, is daar geen eksplisiete aanduiding dat die Tuin van Eden op ’n Berg geleë was nie.  Daar is egter indirekte bewyse wat daarop dui dat die tuin hoër geleë was as die res van die omgewing (topografie).  Een so ’n aanduiding vind ons bv. in Gen.2:1-14 wat dit duidelik stel dat ’n rivier in die Tuin van Eden ontspring het en water vloei tog van hoër plekke na laer plekke.  Verdere bewyse word in Eseg.28:14 gevind waar daar geskrywe staan ~ Jy is uitgebeeld as die gerub wat met uitgestrekte vlerke moes waghou, Ek het jou die opdrag gegee. Jy was op die heilige godeberg, daar het jy rondgestap tussen glinsterende edelstene. Esegiël identifiseer dus die Tuin van Eden hier in vers 14 en weer in vers 16, as die heilige berg van God.

Ons vind op verskeie ander plekke in die Ou Testament, dat God op berge woon en wandel, bv. op die berg Horeb (Eks.3:1); Sinai (Eks.18:5) en die Berg Sion (Ps.48:1-2).  Die Nuwe Testamentiese skrywers volhard met hierdie tema en identifiseer die eskatologiese woonplek (eskatologies = die leer van die laaste dinge) van God en Sy kinders, ook as ’n bergtop, bv. Hebr.12:22 ~ Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms

Soortgelyke “Berg-Tempel” beeldspraak word aangetref in die Openbaring van Johannes – bv. Openb.14:1 ~ Toe het ek die Lam op Sionsberg sien staan en by Hom honderd vier en veertig duisend mense met sy Naam en sy Vader se Naam op hulle voorkoppe geskrywe of Openb.21:10 ~ Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na ’n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom.

Die Woord tref ook ’n belangrike vergelyking tussen die teenwoordigheid van God in die tempel en die tempel se ligging op die berghoogtes.  Die feit dat ’n rivier uit Eden gevloei het en Esegiël se verklarings is dus bevestiging dat die Tuin van Eden op ’n berghoogte geleë was.

•    Die Rivier van Eden:
Soos ons reeds gesien het, sê Gen.2:10 vir ons dat ...daar’n rivier in Eden ontspring (het) om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword.  Al wil dit dan voorkom dat die doel met die rivier, was om die tuin van water te voorsien, is daar tog ook baie duidelike  verbintenisse tussen die rivier en die uiteindelike tempel- beeltenisse in die Bybel.

Water is natuurlik regdeur die Woord, ’n baie kragtige simbool vir lewe en word ook gereeld verbind met goddelike heiligdomme.  Die Woord verbind ook op verskeie plekke die rivier- of water met die Tempel.  Bv. in Ps.46:5 ~ Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste.  In Eseg.47:1 lees ons die volgende ~ Die man met die meetstok het my teruggebring na die ingang van die tempel toe. Toe sien ek daar kom water onder die tempel se drumpel uit aan die oostekant. Die tempel het oos gekyk. Die water het regs van die tempel weggeloop, suid van die altaar verby.  Jer.2:13 praat van ~ My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.  Daar word na God se profetiese Woord in Jes.8:6 verwys as die kalm waters van Siloag.  Die profete Sagaria en Joël gebruik beeldspraak wanneer hulle verwys na die toekomstige Tempel van God in Jerusalem, as ’n fontein wat uit die huis van die Here sal borrel en die Sittimdal natlei.

Hierdie “Rivier-Tempel” beeldspraak dui vir ons op ’n paar dinge:
-    Eerstens moet ons onthou dat die beeld van water, vir ons dui op die teenwoordigheid van God en dit is veral belangrik m.b.t. die Heilige Gees.  Hier kan ons veral dink aan die woorde van Johannes in Joh.7:38-39a ~ Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”  Hiermee het Hy na die Gees verwys....
-      Tweedens word die beeld van water en ’n rivier met die heilige Woord van God verbind wat, deur die werking van die Heilige Gees, geloof en lewe in die mens se hart bewerk. 

Geen wonder dat ene Meredith Kline in sy boek, Images of the Spirit, sê ~ God’s presence on His mountain throne-site in Eden was evidently the spring-source of the river in paradise.

•    Die Bome in die Tuin:
Ons is almal bekend met die Tuin van Eden se bekende bome, nl. die Boom van Lewe en die Boom van Kennis (Gen.2:9).  Daar is ’n verbintenis tussen die tuin en die tempel in die beskrywing van die Boom van Kennis.  Gen.3:6 beskryf hierdie boom se vrugte as goed om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee.   Die Psalmis ego hierdie beskrywing wanneer hy sê dat ...die woord van die Here volmaak is en dat dit lewe gee en dat dit betroubaar is en dat dit wysheid gee aan dié wat nog onervare is. Dit dui die regte koers aan en dit bring blydskap. Dit is helder en dit gee insig (Ps.19:8-9). 

Daar bestaan dus ’n baie duidelike verbintenis tussen die Boom van Kennis as sigbare teenwoordigheid van God se Wet en die Psalmis se beskrywing van die Wet van God.

’n Afskrif van die Wet (die Dekaloog) is gehou in die Verbondsark wat in die Allerheiligste van die Tabernakel gestaan het (Eks.25:16; Deut.31:26).  Die Israeliete het ook geweet dat ’n sekere dood op dié een wag wat aan die Ark raak of dit net sou aanskou – net soos met dié een wat van die Boom van Kennis eet (2Sam.6:7; Num.4:20).

Hierdie is egter nie die enigste verband wat daar bestaan tussen die bome van die Tuin en die tempel nie.  Daar bestaan nog ’n verbintenis tussen die Boom en die Tempel Menora (sewe-tak kandelaar).  God het in Eks.25:31-39 (gaan kyk gerus na die beskrywing van die kandelaar), opdrag aan Moses gegee om ’n kandelaar vir die Tempel te maak en volgens talle teoloë verwys hierdie kandelaar terug na die Boom van die Lewe in die Tuin van Eden.

Wanneer ’n mens na ’n plan van die Tabernakel en die Tempel kyk, sien mens dan ook dat die Menoras baie na aan die Allerheiligste, of die Troon van God geplaas is.  Dit is interessant om te sien dat Joodse literatuur ook die Troon van God in die Tuin van Eden plaas en wel waar die Boom Kennis sou staan.

Bo en behalwe die twee bekende bome in die tuin, was daar ook allerlei ander bome wat mooi (was) om na te kyk en lekker om van te eet (sien gerus ook Eseg.31:8-9).  Oral in die Tempel was daar dan ook pragtige houtsneewerk van blomme, granate en palmbome (1Kon.6:18, 29,  32, 7:18ff).  Behalwe vir die afbeeldings van bome in die Tempel van Salomo het bome ook deel uitgemaak van Esegiël se eskatologiese Tempel (Eseg.41:18-26; 47:12).  Palmbome speel hier ’n baie belangrike rol – palmbome wat simbool van lewe en voorspoed is en sekerlik een van die eienskappe van lewe in die Tuin was.

Bome wat in verband met die Tempel gebruik word, speel ’n prominente rol in Openbaring, waar die Boom van Lewe weer vir die eerste keer genoem word ná die openingsverhaal in Genesis (Openb.22:2, 14).  Johannes sien hier byna dieselfde gesig as wat Esegiël in Eseg.47:12 gesien het – Toe het die engel my die rivier met die water van die lewe gewys. Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit.  Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.

•    Die Edelgesteentes en Metale:
Ons het in Gen.2:12 gesien dat daar ook suiwer goud en oniks in die Tuin was.  Dit is interessant om in die Rabbynse geskrifte te sien, dat hulle verklaar het dat God goud geskep het om in die Tempel te kon gebruik.  Dit val ook op dat bykans al die heilige voorwerpe en die meubels in die Tempel met goud beslaan en oorgetrek was (Eks.25:11,17, 24, 29, 36). 

Ook word van die edelstene wat in die Tuin voorgekom het, in die Hoë Priester se gewyde klere en versierings gebruik (Eks.28:17-20).  Al hierdie edelgesteentes was in goud geset.  Die Hoë Priester se borssak moes ’n klein replika wees van die aardse Tempel, wat op sy beurt ’n afbeelding was van die hemelse (of eskatologiese) Tabernakel.   

Dit is dan ook geen verrassing as ’n mens sien dat Johannes in Openbaring, hierdie selfde edelstene as fondasie van die hemelse Tempel sien nie (Openb.21:18-20). 

•    Die Gerubs:
Na die sondeval en die uitwerping van Adam uit die Tuin van Eden, plaas God twee Gerubs buite die oostelike ingang van die Tuin (Gen.3:24).  Regdeur die Woord sien ons dat Gerubs die bewakers is van God se Tempel.  In Salomo se Tempel het twee Gerubs die binneste heiligdom bewaak (1Kon.6:23-28).  Twee Gerubs sit op die Verbondsark wat die Troon van God vorm (Eks.25:18-22).  Afbeeldings van twee Gerubs versier ook die gordyne van die Tabernakel en die mure van die Tempel (Eks.26:31; 1Kon.6:29). 

Hierdie inligting oor die Gerubs het belangrike implikasies – nie net t.o.v. die identiteit van die Tuin nie, maar ook t.o.v. die verlossingsgeskiedenis en die Christologie (Die leer van die lewe en werke van Christus). 

Esegiël stel die koning van Tirus (Eseg.28:14) in kontras met die Gerub in die Tuin en uiteindelik sien ’n mens dat die funksie van die Gerub in hierdie profesie, presies dieselfde is as die Gerub in Openb.4:6-8, waar die Gerub in die teenwoordigheid van God is en rondom die Troon van God is.

Dit is verder insiggewend dat die Gerubs aan die oostekant van die Tuin geplaas is (Gen.3:24), nl. by die plek van God se teenwoordigheid en dit word simbolies herhaal met die voorhangsel wat oos van die Allerheiligste en tussen die Heilige en die Allerheiligste in die Tabernakel en later in die Tempel gehang het (Eks.26:33). 

4.    DIE TUIN EN DIE TEMPEL:
Die Genesisverhaal identifiseer dus die Tuin as die Allerheiligste waar die mens aanvanklik, direkte toegang tot God gehad het.  Na die sondeval het God egter die Gerubs by die ingang van die Tuin geplaas, sodat die mens nie meer direkte toegang tot God gehad het nie.  En net soos wat die Gerubs by die ingang, enige een wat dit sou durf waag om die Tuin binne te gaan, met ’n vlammende swaard neer te vel, net so sou enige een sterf wat dit sou waag om die Allerheiligste van die Tabernakel of die Tempel binne te gaan - behalwe natuurlik die Hoë Priester wat dit in opdrag van God, een keer per jaar op die Groot Versoendag kon doen en dan moes hy dit ook presies volgens God se voorskrifte gedoen het (Lev.16:2ff).

Die verlossing-historiese en Christologiese verbintenis word baie duidelik vir ons in die Nuwe Testament uitgespel, nl. dat dit Christus Jesus is wat die voorhangsel in die Tempel laat skeur het (Matt.27:51) en sodoende die Gerubs terug laat beweeg het van die tuin se ingang na die middel van die Tuin waar hulle weer rondom die Troon, in die teenwoordigheid van God is en derhalwe aan ons weer toegang tot die Tuin, of te wel God se teenwoordigheid, verleen.

Ek dink daar is reeds genoeg gesê om aan te toon dat die Tuin eerder as Tempel gesien moet word, wat God se heerskappy en teenwoordigheid versinnebeeld, eerder as ’n tuin wat Adam se werkplek is.

5.    AKTIWITEITE VAN DIE INWONERS:
Dit is egter ook belangrik dat ons kortliks sal kyk na die aktiwiteite van die inwoners van die Tuin:

•    God se Teenwoordigheid:
Daar word in Genesis gebruik gemaak van spesifieke taal wat God se teenwoordigheid baie duidelik beskryf en wat weereens heenwys na die Tabernakel of die Tempel.

So het God bv. in Gen.3:8 in die aandwindjie in die Tuin gewandel.  In o.a. Lev.26:11-12 (O.A.V.) en Deut.23:14, sien ons dat God sê dat Hy in ons midde wil bly – Hy wil sy Tabernakel onder ons oprig – en Hy wil in ons midde wandel.  Soos wat God dus in die Tuin gewandel het, net so het Hy in die Tabernakel gewandel.

•    God se Skepping van die Tuin:
’n Verdere parallel wat ons kan trek tussen die Tuin en daaropvolgende Tempels, word gevind in die skeppingsverhaal self.  So is daar bv. baie duidelike parallelle te trek tussen die sewe skeppingsdae (Gen.1:1-2:3) en die sewe gesprekke wat God met Moses gevoer het t.o.v. die bou van die Tabernakel en dan spesifiek die materiaal wat gebruik moes word (Eks.25:1-9), bv. die Ark (Eks.25:10-22), die Tafel (Eks.25:23-30), die Lampstaander (Eks.25:31-40), die Bronsaltaar (Eks.27:1-8), die Voorhof (Eks.27:9-19), ens.

Nadat Moses die bou van die Tabernakel afgehandel het, kon Moses (volgens Eks.40:35) nie in die tent van ontmoeting inkom nie: die wolk was daarin, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul.  God het aan die einde van die Skepping in Sy “Tuin-Tempel” gerus – net so rus Hy in die Allerheiligste van die “Wildernis-Tempel”.

Tyd laat ongelukkig nie toe om nou in detail daarop in te gaan nie, maar dit is interessant om te sien hoe Rabbynse verklaarders verdere parallelle trek tussen die Tabernakel wat ’n mikrokosmiese reproduksie is van God se kosmiese Tempel, nl. die Skepping.

Hierdie Tabernakel-Skeppingsparallel dui dus duidelik daarop dat die Tuin van Eden, die eerste Allerheiligste plek was waar God se Troon gesetel was.  Wat meer is, Adam kan gesien word as die eerste Priester, veral as ons dan spesifiek kyk na sy verantwoordelikhede in die Tuin.

•    Adam se Verantwoordelikhede:
God gee aan Adam bepaalde opdragte nadat hy geskep is.  Dit is interessant om daarop te let, dat dieselfde woordeskat gebruik word om die verantwoordelikhede van die Priesteramp in die Tabernakel, in Num.3 en 4 te beskryf.

Hierdie feit dui dus daarop dat Adam ’n argetipe van ’n  Leviet was.  Wanneer ons na die groter konteks van die Skrif kyk is dit dus duidelik dat Adam se verantwoordelikhede in die Tuin dus primêr priesterlik van aard was, eerder as dat hy ’n landbouer moes wees.

•    Adam se Kleredrag:
’n Verdere parallel kan getrek word tussen die kleredrag van Adam ná die sondeval en dié van die priesters in die Tempel.  Soos wat die sondegevalle Adam nie naak in die teenwoordigheid van God kon verskyn nie, net so kon die Priester nie naak in die teenwoordigheid van God verskyn het nie (Eks.20:26; 28:42).  Beide moes beklee word met klere wat God óf gemaak het, óf voorgeskryf het (ons kleredrag wanneer ons in die teenwoordigheid van God verskyn – Huis van die Here en selfs ons binnekamer?).

Ons moet ook daarop let dat die klere wat God vir Adam en Eva gemaak het, ’n heenwysing is na die beskerming wat ons as regverdigverklaardes in en deur Jesus Christus, teen die oordele van God ontvang het.

5.    GEVOLGTREKKING EN SLOT:
Wanneer ons dan na al hierdie eksegetiese getuienisse kyk, kan ons nie anders as om te sien dat die Tuin van Eden se primêre doel nie dié van boerdery was nie, maar dat dit ’n besliste Tempelstatus geniet – tuiste van God se heerlike en heilige teenwoordigheid – voetbank vir Sy heilige Troon.

Ons weet verder dat die mens (Adam en Eva) in sonde geval het en dat hulle uit die Tuin gejaag is en dat hulle geen toegang tot die Allerheiligste van die “Tuin-Tempel” meer gehad het nie – hulle kon nie meer in die teenwoordigheid van God verskyn nie.  Hulle het oortree deur ’n vrug van die Boom van Lewe te eet en derhalwe het hulle die voorreg om ewig in die teenwoordigheid van God in die “Tuin-Tempel” te leef, verbeur en daarmee saam, hulle hele nageslag wat my en jou insluit. 

Die mens se eks-kommunikasie uit die Tuin het dus tot gevolg gehad dat hulle en hul nageslag onder die vloek van God se toorn moes leef, met die uiteindelike vloek dat  geen mens ooit weer die Tuin sou kon binnegaan en gemeenskap met God hê nie, want twee Gerubs bewaak die toegang.  Hierdie is die tweede dood waarvan Openb.21:8 praat ~ Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood

Sonde het dus skeiding gebring tussen ons en God.  Later het die Israeliete wel die vergunning gekry om tot God te nader en ’n tweede kans op lewe verkry, d.m.v. offers wat namens hulle deur die Hoë Priester gebring moes word –’n Priester met, soos ons reeds gesien het, baie spesiale kleredrag ens.  Hierdie simboliese tekens, kleredrag, offerandes ens., wys alles vir ons heen na Jesus Christus, die Seun van God, wat gestuur is as volmaakte Hoë Priester en wie God se toorn op Hom geneem het, sodat ons as sondige mense weer in die teenwoordigheid van God kan verskyn en uiteindelik toegang kan verkry tot die “Tuin-Tempel” van God, waar ons vir ewig in Sy teenwoordigheid en voor Sy Troon kan verkeer. 

Dit is waarom die Voorhangsel van die Tempel ook geskeur het, toe Jesus Sy laaste asem aan die Kruis uitgeblaas het – Jesus het vir ons toegang verleen en Hy is steeds vir ons die kanaal deur Wie ons tot God kan nader.

Indien jy geen toegang tot God het nie, omdat jy verlore is, gee God aan jou die geleentheid om vandag nog met Hom reg te maak deur jou sonde voor Hom te bely, op grond van Jesus Christus se soendood aan die Kruis. 

En jy my broer en suster wat dalk nie meer vrymoedigheid het (om watter rede ook al) om in gebed na God die Vader te gaan nie – Jesus ís ons Voorspraak; die Tempel se Voorhangsel hét geskeur; die Gerubs sál jou toelaat om deur Jesus na die Vader te kom.  Ons lees in Hebr.10:19-22 die volgende ~ Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom,  en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.  En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het,  laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.


Comments (0)

Post a Comment
* Your Name:
* Your Email:
(not publicly displayed)
Reply Notification:
Approval Notification:
Website:
* Security Image:
Security Image Generate new
Copy the numbers and letters from the security image:
* Message: